Wednesday, December 23, 2009

9 maande!

Sjoe, mamma kon alweer van voor af swanger gewees het, ek kan dit nie eers indink nie! Jy is vandag 9 maande oud, tyd vlieg, maar dit sê ons altyd, maar dit is die waarheid!


Jy het op 20 Desember begin kruip op jou hande en kniee, jou tweede onderste tandjie (links) het op 4 Desember deurgekom, jou eerste bo tand (voor links) op 15 Desember, jou tweede ene op 21 Desember. Die tandjies weerskante van jou voortande skyn albei wit deur die vel en gaan een van die dae deurkom. En vandag was die eerste keer wat jy jouself opgetrek het tot op 'n staan posisie in jou kot!

Hier is 'n foto waar jy "kersvader" speel!

Friday, December 11, 2009

Vakansie tyd!!!!

Vandag ry ons op vakansie boeta, dis jou eerste see vakansie, ons kan nie wag om te sien hoe jy gaan speel in die sand nie. (Hoop maar dit bly uit die oë en mond en hare...)

Jou boonste tandjie is oppad (lyk of altwee so saam-saam oppad is), so jy slapies maar nog nie baie lekker in die aand nie, maar ek gee nou vir jou tee deur die nag, jy kry jou melk eers in die oggend. Jou oortjies is nou beter, dit dreineer ook nie so baie nie. Die dokter was baie gelukkig met hoe dit nou is, hy sê alles sit waar dit moet sit en dit lyk gesond. Gister was ons ook vir jou masels inspuiting, daar is darem nog geen teken van newe effekte nie, maar ons hou dit dop. Jy weeg nou 7.945kg, is 74cm lank en jou kop omtrek is 43cm. Jy is BAIE woelig, jy seil nogsteeds op jou maag, maar jy is blitsig vinnig... As ek sien dan is jy by my voete, of ek nou in die badkamer of kombuis is, jy sal by my uitkom, so ons wag net dat jy jou beentjies begin optrek, maar vir alle tegniese doeleindes is jy totaal mobile...

Verder is jy nogsteeds ons engeltjie en ons is baie lief vir jou!

(Hier is jy in die hospitaal net voor jy in die teater in is met jou grommets):

Tuesday, December 1, 2009

Grommets


More is dit sulke tyd, jou oortjies pla nou heeltemal te lank en dis nou al die 3de oor-infeksie wat jy het vandat jy gebore is en die 4de keer wat jy op antibiotika is. So more oggend 6:45 moet ons inboek by Die Wilgers hospitaal en dan gaan ons vir jou grommets insit, ek glo dit gaan jou baie beter laat voel my boeta seun.
Mamma en Pappa is lief vir jou!


Sunday, November 29, 2009

Tandjie - 3 weke


Kyk net hoe mooi show jy af met hom!
Ek kan sien die ander ene is oppad, daar is so klein blasie op jou gums waar die puntjie gaan deurkom, nou wag ons geduldig!!!

Monday, November 23, 2009

8 maande!

En hoe vlieg die tyd nie! Dis nogal toevallig weer op 'n maandag, ek het wakker gele vanoggend tussen 3:50 en 4:10 ('n rondloper kat het besluit om in ons huis te kom speel saam met Lucy) en het terug gedink aan die oomblik toe jy gebore is, 4:07 op 'n maandag oggend. Ek sal dit nooit vergeet nie. Jy is nou al baie meer mobile as laasweek toe jy begin seil het, seil nou al te lekker op jou maag rond, baie vinnig en jy "gesels" 'n hond uit 'n bos uit. (Dit was nou vir lank Pappa, Baba en Mamma, en nou is dit dada...) En jy skud jou kop deesdae asof jy nee se vir alles (soms se jy nee)! Die tandjie "groei" ook mooi en jy word ook net al hoe groter, mamma kan sien die volgende ene is oppad, maar dit lyk darem nie of dit jou te veel omkrap die keer nie! Jy is vandag ook op na die groter klassie toe by die skool, dit klink my dit het ook goed gegaan en jy het maar net lekker gespeel, niks kan jou tog omkrap nie! Jy is die soetste ding!


Ons is so lief vir jou!
(Tandjie na 2 weke se groei)

Wednesday, November 18, 2009

Die eerste skuif en 'n "kruip" daarby

En nou dat jy "leopard crawl" sommer so uit die bloute van gister af moet jy maandag opskuif na die groter klassie. Mamma en Pappa se hart is seer, dis snaaks om te dink jy is nou "te groot" vir die baba klassie. Jy skuif so vorentoe op jou voorarms en kom waar jy wil wees. Dis te oulik, en jy wieg vorentoe en agtertoe op jou arms en kniee (met die tye wat jy so staan) so ons dink kruip is naby.

Jy word nou te groot boetman, heeltemal te vinnig!

Ons sal kyk Maandag hoe gaan die nuwe klassie met die nuwe juffrou...

Kyk hoe seil jy:

Tuesday, November 17, 2009

Monday, November 9, 2009

Wys hulle!

Hier is jou tandjie se punt! (Mens moet maar vinnig en mooi kyk, maar hy is daar en ek kan hom al voel!)

Sunday, November 8, 2009

Tandjies!

En daar is dit nou, jou eerste tandjie op 7.5 maande. Jy was maar moeilik die naweek en ons kon nie regtig uitwerk wat is fout nie. Ek het nog gister in jou mond gekyk en daar was geen teken van 'n tandjie nie, niks was rooi of opgeswel nie. Maar vandag toe ek jou groentetjies vir jou gee toe sien ek, daar sit hy! 'n Kleine klein tandjie, regs onder. Dit lyk my hy het al die vel gesny, en as ek met 'n lepeltjie tik dan maak hy 'n kliek kliek geluid. Jy sukkel maar om te drink, so ek gee jou prodol net om die tandvleis bietjie te verdoof, dit klink maar seer as jy huil en ek gee jou ook bietjie panado vir die pyn. Geluk my bokkie, jou tandjie is hier! Mamma is so trots op jou!

Thursday, November 5, 2009

Rolo!!

Kyk hoe lekker eet jy mamma se rolo roomys!!!

Tuesday, October 27, 2009

Van toeka tot nou...

Die begin!!! Jou eerste foto's - welkom! Saam met pappa, mamma, jy kry kossies en ons as gesinnetjie
1 maand:

2 maande:3 maande:4 maande:5 maande:6 maande:7 maande:

Dankie Tannie Marts vir die "tag", kyk net hoe mooi groei ons!

Saturday, October 24, 2009

7 maande!


Soos altyd 'n dag laat, maar nie te min, dis hier. Jy is 7 maande oud, 30 weke en 4 dae (ja ek tel), ek kan dit nie glo nie. Tyd staan vir niemand stil nie. Nie eers vir 'n oulike ou babie soos jy nie. Ek wens ek kan elke oomblik vries, want dit is so kosbaar!

Jy groei lekker, eet lekker (eindelik ook my tuisgemaakte disse en vleisies), speel lekker, sit mooi, begin nou al neigings toon om te kruip, draai alle kante toe - maag na rug en anders om, die hele vloer vol, draai al in die rondte op jou maag, lag lekker, gesels vir 'n vale, draai sommer heeltemal om in jou kot en slaap op jou maag, druk steeds alles in jou mond (maar ons wag nog vir die tande), vat mooi vas en wissel items tussen jou hande, alles wat jy moet doen doen jy. Dan is jy ook nou al "groot" genoeg om te besluit het jy is klaar met borsvoed, uit jou eie, was nogal 'n skok vir my om te besef so klein soos jy is kan jy al klaar jou eie besluite maak. So nou melk ek maar uit en gee vir jou in bottels, jy het blykbaar nie 'n probleem met die melk nie, maar is groot genoeg om nie meer aan Mamma te drink nie, dalk is dit ook beter so, want as dit net aanhou sou ek seker nooit wou ophou nie. Dit was 'n spesiale "bonding" tussen ons en ek sal dit altyd koester en darem voel ek dat ek nog "sorg" vir jou en as alles goed gaan sal ek aanhou so tot jy 'n jaar oud is. Kom ons hoop ek hou uit! Dit gaan baie goed met jou in die skool, mens kan sien jy het al daai tannies om jou pinkie gedraai, hulle is baie lief vir jou en jy is baie soet daar. Die swem maak ook klaar volgende week, dan was dit 6 weke se swem, kan nie glo nie, ek dink ons sal so bietjie 'n breek vat tot jy nou weer groter is voordat ons die volgende kurses aandurf.

Anders is jy net 'n engel, soos altyd en ons word net liewer vir jou by die dag, jy is ons ou sterretjie. Ons is baie lief vir jou!

Mamma en Pappa

Wednesday, October 7, 2009

'n Paar nuwe foto'tjies.

Ons het 'n lekker "photo shoot" van jou geniet Sondag oggend en hier is die resultaat...

Jy is nou 28 weke oud en ek moet onthou om jou voetjies se afdruk weer te maak die week, het op 4, 8 en 18 weke en dan nou weer op 28 weke...

Lekker foto's kyk!

Tuesday, September 29, 2009

Kyk hoe lekker swem ons!

Jy het nou begin swem (die 21ste September was jou eerste les) ek doen die Maandae klassies saam met jou en Pappa doen die Saterdae klassies saam met jou. Dis nou nie veel "tegniek" nie, want julle is maar nog almal klein, maar so deur die speel leer julle om gemaklik te wees in die water en die "basics", hoe om te float, aan die kant vas te hou en julle asem op te hou onder die water (daarby moet ons nog uitkom)... Hier is so paar foto'tjies van wat alles in die swembad gebeur.
(Hier is ook 2 video's van Saterdag se swem saam met Pappa, en het jy dit darem nou geniet!)



Sunday, September 27, 2009

'n Halwe jaartjie oud!

Ek gaan nie jok nie, ek mis die "pap-babatjie" lyfie van jou, maar ek is MAL oor die stewige ou "peuter" lyfie wat jy nou al amper het. So lekker om vas te hou en te druk. Hoe jy al so op jou eie kan sit en speel, hoe jy probeer kruip en daai boude die hoogte instoot, hoe jy gil en "praat" (klink soos ba-ba, pa-pa, ma-ma en die nuutste - da-da), hoe jy nou jou voete vasgryp, jou tone suig, hoe jy glimlag elke keer as jy nies, rondrol die hele plek vol en draai al in die rondte op jou pensie soos jy speel...

Jy is al 'n halwe jaar oud, ek kan dit nie glo nie, mense sê altyd tyd vlieg, maar jy besef nie wat dit beteken totdat jy self daar is nie, TYD VLIEG!! Dit voel soos gister (en ek onthou dit nog soos gister) toe jy gebore is, ek kan nog elke emosie en elke liewe dingetjie van daardie dag onthou, ek dink nie mens vergeet dit ooit nie, maar ek kan sê elke dag daarna word net lekkerder en lekkerder. Jy is regtig 'n pragtige, soet kind. En ons is so lief vir jou!

Lekker "halwe-jaar-verjaarsdag" my boetie seun!

PS. Ek en jy begin 6 Oktober met Moms & Babes, kan nie wag nie.
PSS. Jy was vrydag (25 September) by jou eerste verjaarsdag partytjie, Lara het 7 geword en jy was die kleinste maatjie daar!

Tuesday, September 15, 2009

Ba-Ba

Kyk net hoe oulik "praat" jy, as mens vir jou Ba-Ba sê dan konsentreer jy eers bietjie en sê dit terug... Ek weet jy weet nog nie WAT dit beteken nie, maar die geluide is daar!


Sunday, September 13, 2009

Lekker lekker vla...

Ek en jy was laas naweek by ouma en oupa, Pappa was die hele naweek op 'n mannekamp en ons het toe so bietjie in Nigel gaan kuier.

Ouma kon natuurlik dit nie weerstaan nie en het vir jou vla gegee...

Kyk net hoe geniet jy dit... en hoe gil jy vir nog!!!


Thursday, September 3, 2009

Siek

Ag my baba, nou is jy siek, net mooi 2 daggies nadat jy begin het met skool en dit ook so geniet het. Ek hou jou nou maar by die huis vandag en more en dan sal jy weer maandag skool toe...

Was by die dokter, klink my gastro is lekker in die omtrek so dis nie juis snaaks nie, maar dis steeds nie lekker dat jy nou met so onderstebo maag moet sit nie.

Darem is jy rustig en dit lyk of jy nou lekker jou tee en ander vloeistowwe inhou, so ons hou duim vas dit bly so, want dis niks lekker om jou so te sien nie en die dokter het so ewe 'n hospitaal bed bespreek vir jou net vir ingeval ons met jou moet hospitaal toe, maar ek glo en vertrou dit sal nie daarby uitkom nie...

Gou gesond word my engeltjie, Mamma is lief vir jou.

O' ja, jy weeg nou 6.8kg en is 68cm lank...

Wednesday, September 2, 2009

Video by die skool

Ek het nou nie gister met jou EERSTE dag afgeneem nie, want ek het eers vanoggend daaraan gedink, maar hier is 'n video van jou TWEEDE dag...




Hier het ek jou weer vanmiddag gaan optel...

Tuesday, September 1, 2009

Die dag het aangebreek.

Jy is tans by die skool, ek doen nou maar dingetjies hier in en om die huis. Ek en Pappa het 'n lekker wimpy ontbyt gaan eet vanoggend net om bietjie ons gedagtes af te trek...

Tannie Magriet het ook nou gebel en gesê dat jy die hele oggend sover HEERLIK gespeel het sonder enige issues of tranerigheid en dat jy nou jou bottel drink en gaan slapies.

Klink my jy is so tuis soos 'n vis in die water, Mamma het bietjie gehuil en ek is seker Pappa het ook swaar gesluk vanoggend, al die ouma's is in trane, maar ons is almal daardeur, want jy glimlag net.

Ek is lief vir jou my seuntjie-pop, want jy is so maklik en ons is so geseënd om jou as ons babatjie te hê, jy is nie vol issues en dinge nie, jy is nie huilerig nie, jy is nie "huis-vas" nie, jy glimlag vir die wêreld en gee nie om watter hande jou vashou nie, jy is 'n droom kind, jy is ons kind...

Amper 14:00 dan gaan haal ek jou weer, kan nie wag nie!

(Voor ons gery het om jou te gaan aflaai die eerste dag)

Monday, August 31, 2009

Skool toe.


Prinsies en Prinsessies, dis die naam van jou skool waar jy môre begin. Sjoe, ek kan nie glo na 23 weke saam met jou is vandag die laaste dag wat jy heeldag by die huis is nie. Ek sien nie baie uit na môre nie en Pappa ook nie, maar dit moet een of ander tyd gebeur.
Maar ons weet jy is reg, want jy gee glad nie om om na enige iemand te gaan nie, is nie skaam nie en ook nie "huis-vas" nie. Jy glimlag vir enige iemand en is gemaklik in enige iemand se arms. Darem is dit net halfdag, hier en daar sal ek jou dalk net bietjie langer los, want dan moet ek bietjie swot, maar andersins tel ek jou weer so 1 uur môre middag op.
Ek het nog so paar goedjies om te gaan koop vandag wat jy moet saamvat, maar basies is alles nou al reg, môre moet nou net aanbreek (stadig).
Wel, ek glo dit gaan goed gaan, Pappa vat 'n halwe dag verlof, want ek dink nie ons sal dit oorleef nie, ons is nie bekommerd oor jou nie, want ons weet jy sal okay wees, ons is bekommerd oor ons! Ons is klaar na aan trane...
Laaste dag my engel, kom ons geniet hom!
Liefde
Mamma