Vandag is ek al 25 weke swanger, ek kan nie glo hoe die tyd vlieg nie! Nie meer baie lank nie dan word jy al gebore!
Ons gaan weer bietjie môre vir jou kyk by die dokter, ek is nogal nuuskierig om te sien hoe jy al gegroei het en veral om te weet hoeveel jy weeg, want jy is darem al lekker besig jong! Skop my alle kante toe, maar dis darem nie seer nie, dis eintlik lekker! Pappa voel jou elke dag en ons sien jou nou al baie beweeg as ons my maag dophou. Jy is veral besig vroeg in die oggende, terwyl ek werk toe ry en dan so laat middag tot omtrent 10 uur in die aand. Dan speel ons jou musiek vir jou en jy raak rustig...
Ons gaan die naweek verf soek vir jou kamer en ook jou "pram" en kar stoeltjie koop, ons wil ook kyk om jou kot en kassie vir jou kamer te bestel! Mamma het SO baie rond gesoek vir die beste prys, ek kan eintlik nie wag om dit nou te gaan koop nie, ek dink jy gaan nogal daarvan hou!
Jou tannie Miekie kom my help volgende week om jou kamer te verf en jou gordyne te maak, ek kan nie wag nie, ek werk nog net tot hierdie vrydag dan is ek met vakansie, so ons kan lekker werk die hele week, tot dit klaar is! Ons wil dit 'n baie sagte blou/grys maak, met sulke wolkerige/sterretjie tema... Dis nogal moeilik om te beskryf, maar al die idees is in my kop! Sagte kleure en klein baba liggies in die dak, sagte gordyne en mooi geverfde mure met 'n hout raampie om wat dieselfde kleur as jou kot en kassie gaan wees. Dan pas alles mooi bymekaar...
Hier is 'n idee van wat ek in die kamer wil verf, die tema gaan alles hierby pas:
Ag ons sien so uit dat jy gebore moet word klein Snippie kind, tyd raak nou min!
Liefde
Mamma
Tuesday, December 9, 2008
25 weke, môre en jou kamer...
Posted by Monzelle de Villiers at 1:36 PM 0 comments
Wednesday, December 3, 2008
Hallo Joshua
Hi my seun
Jammer pappa was bietjie stil die afgelope tyd, dit is maar harde werk om jou eie besigheid te begin. Jy sal nog sien eendag, alles wat die moeite werd is verg maar harde werk.
Ja, soos mamma genoem het, ons was lekker uit 'gebowl' die dag toe ons hoor jy is oppad, ek kan nie eers onthou wat ek geëet het nie, ek het net geweet jy is oppad......en ons het al geweet jy is 'n seuntjie 2 jaar nog voor mamma swanger geword het.....liewe Jesus het vir ons gesê.
Ja, jy word alhoe sterker deesdae en ek geniet dit vreeslik om te voel hoe jy woel binne mamma.
Ek gesels nou so lekker ek het eintlik vergeet wat ek oorspronklik wou gesê het ;-D
Jy moet mooi groei en nog sterker word, pappa is baie trots op jou omdat jy so mooi gegroei het tot nou toe en ons is baie lief vir jou.
Liefjou
Pappa
Posted by Morné de Villiers at 3:44 PM 0 comments
Monday, December 1, 2008
*Dinsdag - 15 Julie 2008*
Dis die dag waarop ons uitgevind het jy is oppad!
Ek het laas jaar al 'n droom gehad van die datum: "15 Julie", ek het nie geweet watter jaar dit is nie en was nie seker of dit die dag is waarop jy gebore sou word of die dag waarop ons sou uitvind ek is swanger nie, maar ek het geweet dit het iets met swangerskap te doen.
Ons het begin beplan om die gesin uit te brei en na so paar teleurstellingtjies het ek besluit om eers weer 'n bloedtoets te doen op 15 Julie 2008... Ek het die oggend vroeg al wakker geword en nadat ek al van 3uur die oggend af my "piepie" moes knyp, het ek 'n toets by die huis gedoen wat negatief uitgekom het (ugh), maar ek het nie moed opgegee nie. Ek het sommer oppad werk toe gou by die hospitaal gestop en bloed laat trek, want die datum was net vir my TE spesiaal. Ek het sommer dat die bloedtoetse na jou oupagrootjie se spreekkamer toe gestuur word, want ek wou nie eers wag dat dit na my ginekoloog toe gestuur word nie. Dan moet ek hulle eers bel en wanneer die dokter eers beskikbaar is kan ek vir hom vra wat is die uitslae... Ek wou DADELIK weet!
Dit was 'n laaaaaaaaaa-aaang wag tot ek uiteindelik later die middag met Oupa Wiets praat en hy vir my sê dat ons babatjie (jy) oppad is! Ek het dadelik vir Pappa 'n baba kombersie en 'n klein teddie beertjie gaan koop wat ek met 'n lintjie toegedraai het saam met my bloedtoets-uitslae om die nuus aan hom te breek! Hy het by die huis gekom die aand en hy was gou gou op die foon, terwyl hy besig was het ek die pakkie vir hom uitgehaal en toe hy klaar is het ek dit vir hom gegee. Hy was so bly, maar ek moet sê die wind was ook bietjie uit ons seile uit, ons het nie geweet wat ons moet doen nie. Mens wil lag, mens wil huil, mens wil iets sê, maar jy weet ook nie wat nie... Dit was snaaks. Ons het mekaar net 'n drukkie gegee en was so bly dat ons klein babatjie oppad is, ons het net na mekaar gestaar in verwondering... Ons het toe sommer by Spur gaan eet, nie een van ons wou toe kos maak nie! (Jy het lekker hoenderborsies as jou eerste kossies gehad - dis nou jou eerste kossies vandat ons weet jy is oppad)
Andersins was dit net soos 'n droom, dit het baie onwerklik gevoel tot ons jou op die eerste sonar gesien het, en al was jy toe nog net 'n spikkeltjie, was jy ons spikkeltjie!
Ons is al klaar so lief vir jou en tel die weke af tot ons jou uiteindelik kan ontmoet!
Liefde
Mamma
Posted by Monzelle de Villiers at 10:36 AM 0 comments
Monday, November 24, 2008
Ons sien jou!
Ek het die laaste week begin agterkom dat jy nou al so sterk is, jy begin ons nou vermaak met jou skoppe! (Om nie te praat van laasweek nie, toe Pappa vir jou sê jy moet skop en daar gee jy hom toe die hardste skop nog!) Mens kan jou al sien skop nou. Klein bewegingtjies, maar dis daar. En dis lekker!
Ons speel nou vir jou lekker Baby Einstein se Mozart liedjies in die aande voor ons gaan slaap (ek wonder wat dink jy daarvan?) Ons wonder of dit dalk vir jou 'n slaap "trigger" sal wees? Sal interessant wees om te sien hoe dit jou beinvloed!
Ons kry ook vanaand ons houtvloere, en dit word Woensdag vir ons ingesit. Dit gaan so mooi lyk! Dan kan ons met jou kamer begin, daar is die oulikste idees, so ons gaan lekker werk om jou kamer vir jou perfek te maak oor Desember....
Lekker verder skop seuntjie, vanaand speel ons weer musiek!
Lievijou
Mamma
Posted by Monzelle de Villiers at 10:08 AM 0 comments
Tuesday, November 18, 2008
Jou name
Hallo my seun
Ek het gedink dit sal vir jou interesant wees om vir jou te verduidelik hoe mamma en pappa op jou name besluit het. Ons glo dat 'n naam vreeslik belangrik is, en dat jy basies eendag word wat jou naam beteken.
Daarom het ons name vir jou gekies wat iets belangriks beteken. Jou eerste naam sal jou karakter beskryf en jou tweede naam die roeping op jou lewe. Eendag as jy oud genoeg is om die boodskappies te lees, sal ons weet of ons reg was of nie ;-)
Joshua: God is my salvation. (En hy was 'n baie goeie leier wat Moses opgevolg het in die Bybel)
Connor: Stronghold of God, keeper of the truth.
Wel, tot ons weer gesels ou bulletjie.....jy moet lekker skop vanaand dat pappa kan voel of jy sterker word.
Lief vir jou.
Pappa
Posted by Morné de Villiers at 4:14 PM 0 comments
Monday, November 17, 2008
Ek is net 'n mamma.
Mense sê altyd jy kry "seuntjie-mamma's" of "dogtertjie-mamma's". Daar is al baie vir my gesê ek is 'n "seuntjie-mamma", maar ek dink ek is albei (eintlik dink ek ek is net 'n mamma) Ek hou van frilletjies en tierlantyntjies en dogtertjie dinge soos klere maak en mooi maak, maar dan hou ek ook van seuntjie goed en vuil word in die tuin, om Pappa te help om 'n stoof uitmekaar te haal en te sien wat gaan daar binne aan. Ek het ook met karretjies gespeel toe ek klein was en albasters saam met die seuntjies by die skool (ek het hulle nogal baie gewen!) en jou ouma het my weer die naweek vertel hoe baie ek met goggas gespeel het...
Jou pa wou hom ook vashou met die mannekamp so 2 naweke terug, maar het toe nie tyd gekry nie, ek dink volgende keer sal hy verseker!Posted by Monzelle de Villiers at 8:29 AM 0 comments
Friday, November 14, 2008
Ou nuus...
Ek het voordat ons die blog begin het, elke nou en dan sommer op 'n papiertjie geskribbel as ietsie gebeur het. Ek dra die papiertjies saam met my rond in my handsak en beplan nog om dit te gebruik vir 'n scrapbook of 'n "dagboek"... Toe besluit ons op die blog, want dis mos nou 'n makliker dagboek. Voordat ek al die papiertjies dalk verloor gaan ek sommer hier tik wat ek alles al geskryf het vir jou!
- 15 September 2008 -
*12weke 6dae*
Ons sien jou vir omtrent 10 minute vandag op die sonar rondspring, maar die dokter se masjien kon nie vir ons 'n video record nie en ook nie 'n prentjie print nie. Jy lê met jou armpies bo jou kop, rustig uitgestrek. Jy krimp op 'n stadium in 'n klein "bondeltjie" en speel ook met jou naelstring. Ons sien jou vingertjies, tone, jou ribbetjies en jou brein. Jou beentjies lyk lekker fris waarmee jy rondspring!
- 7 Oktober 2008 -
*16weke*
Ek het my eerste beweging/skoppie gevoel vandag. Dit was baie duidelik, 3 ligte tikkies net so bietjie regs van my naeltjie laer af na die pelvis. Ek was badkamer toe en het duidelik gevoel hoe jy vir my se hallo!
- 5 November 2008 -
*20weke 1dag*
Pappa voel jou die eerste keer skop! Dis baie liggies en mens moet nog konsentreer om seker te maak dat wat jy voel nou regtig is wat jy dink, maar dis net genoeg om te weet dit is jy wat hallo se!
- 8 November 2008 -
*20weke 3dae*
Ek dink ek het my eerste emosionele oomblik tot dusver deur die hele swangerskap. Tot nou toe was ek nog geensins naar, siek, emosioneel of het ek enige "mood-swings" gehad nie.
Dit is eintlik vrek snaaks, ons het TV gekyk tot laat en toe die film eindelik verby is gooi ek 'n kussing na die TV en een na jou pa ('n manier om vir Pappa te se, dis nou tyd vir bed en ek het hom nie eers raak gegooi nie) die volgende oomblik gooi hy my met 'n kussing! (Dit was nie seer of hard of iets nie) maar ek het so geskrik ek het sommer begin huil! Hy het nie eers geweet nie, ek het net opgestaan en bed toe gegaan, dit was regtig snaaks!
Posted by Monzelle de Villiers at 8:23 AM 0 comments
Thursday, November 13, 2008
Joshua
Hi my seun
Sjoe, watter ongelooflike voorreg om jou weer te gesien het vandag, pappa kan net nie wag om jou in my eie arms vas te hou nie! En nadat ek daardie fris bene van jou gesien het, kan ek nie wag om jou te leer hoe om rugby te speel, en hekkies te hardloop nie.....sal dit maar los vir oom Wiets.
En ja, dit lyk verseker of jy mamma se lippe gekry het, so lank jy net nie die meisies se harte breek met daar 'soenbare' lippe nie. (Dit is wat die ginokoloog dit genoem het)
Dit reg my seun, as jy wil kuns doen sal ons jou die vryheid gee om jouself uit te druk. Doen wat jou hart begeer my kind, moet nie bang wees om foute te maak nie, doen wat jy dink is reg maar onthou daar is altyd verantwoordelikhede en gevolge wat gepaart gaan met besluite. Ek is baie lief vir jou, en kan nie wag om jou finaal te ontmoet nie!
Liefjou
Pappa
Posted by Morné de Villiers at 4:38 PM 0 comments
Hallo my Snippie kind...
Ons het vandag weer vir jou gaan loer en was jy besig! Darem nie te veel dat ons niks kon sien nie...
Jy het vandag 403g geweeg, maar ons kon jou nie meet nie... Ons het vandag ook meestal na al die "anatomie" gekyk, jou magie, blaas, brein, lippies (wat lyk my van my afkom!) en jou hartjie. Alles lyk so mooi en perfek, ons het ook jou aorta gesien soos wat hy uit die hartjie loop tot waar hy vertak by die beentjies. Dit is darem verstommend! Mens kon jou vingertjies en tone almal tel! (Ek wil my ook nou nie verbeel nie, maar dit het op 'n stadium gelyk of jy lekker met jou piepster speel!!) Ons het ook weer vandag bevestiging gekry dat jy wel 'n blou-voet is (nie dat ons getwyfel het nie)
Gisteraand se gym klas was baie lekker gewees, daar was net 3 ander mamma's so dis nie te beknop nie. Dit is lekker oefening wat ek dink goed is, nogal verbasend hoe hulle jou dril as mens swanger is, sou gedink het mens moet bietjie rustiger wees met die oefen, maar nee... Ek geniet dit baie, ek en jy gaan van nou af elke woensdag en saterdag bietjie oefen!
Pappa dink jy gaan 'n atleet en 'n rugby speler wees, want jy het vir ons lekker fris beentjies gewys vanoggend! (Ek dink nog jy gaan bietjie arty ook wees...)
Tot ek weer skryf...
Lievijou!
Mamma
Posted by Monzelle de Villiers at 1:45 PM 0 comments
Wednesday, November 12, 2008
Hallo my seun.....
Wow, ek het verseker nie my eie blog gehad toe ek nog in jou ouma se 'maag' was nie! Ek wil maar net vir jou sê dat ek baie lief is vir jou en ons kan nie wag om jou gesiggie te sien nie.
Ek het so baie dinge wat ek jou wil leer my seun, hoe om 'n bal te skop, hoe om 'n vrou te behandel en hoe om jou lewe te leef vir ander mense! Ek belowe jou dat ek sal alles in my vermoë sal doen om jou te beskerm, jou die lesse van die lewe te leer en jou lief te hê.
Ek moet nou gaan, maar ek sal gou-gou weer vir jou 'n briefie skryf.
Liefjou baie.
Pappa
Posted by Morné de Villiers at 4:15 PM 1 comments
21w1d
Jy is baie stil vandag? Slaap seker lekker.... Ek wens ek kon ook nog slaap in hierdie gure weer.
Ek gaan vanaand vir my eerste klas by die "Preggi-bellie" gym in Moreleta, ek sien baie uit. Dis 'n gym net vir swanger mamma's.
Ons gaan more weer vir 'n sonar en hoop om jou lekker te sien rondbeweeg. Ons kan nie wag om te sien hoe jy gegroei het nie! (Solank die dokter se DVD masjien net werk dan is ons gelukkig)
Lekker slaap seuntjie!
Posted by Monzelle de Villiers at 12:00 PM 0 comments