Ek het voordat ons die blog begin het, elke nou en dan sommer op 'n papiertjie geskribbel as ietsie gebeur het. Ek dra die papiertjies saam met my rond in my handsak en beplan nog om dit te gebruik vir 'n scrapbook of 'n "dagboek"... Toe besluit ons op die blog, want dis mos nou 'n makliker dagboek. Voordat ek al die papiertjies dalk verloor gaan ek sommer hier tik wat ek alles al geskryf het vir jou!
- 15 September 2008 -
*12weke 6dae*
Ons sien jou vir omtrent 10 minute vandag op die sonar rondspring, maar die dokter se masjien kon nie vir ons 'n video record nie en ook nie 'n prentjie print nie. Jy lê met jou armpies bo jou kop, rustig uitgestrek. Jy krimp op 'n stadium in 'n klein "bondeltjie" en speel ook met jou naelstring. Ons sien jou vingertjies, tone, jou ribbetjies en jou brein. Jou beentjies lyk lekker fris waarmee jy rondspring!
- 7 Oktober 2008 -
*16weke*
Ek het my eerste beweging/skoppie gevoel vandag. Dit was baie duidelik, 3 ligte tikkies net so bietjie regs van my naeltjie laer af na die pelvis. Ek was badkamer toe en het duidelik gevoel hoe jy vir my se hallo!
- 5 November 2008 -
*20weke 1dag*
Pappa voel jou die eerste keer skop! Dis baie liggies en mens moet nog konsentreer om seker te maak dat wat jy voel nou regtig is wat jy dink, maar dis net genoeg om te weet dit is jy wat hallo se!
- 8 November 2008 -
*20weke 3dae*
Ek dink ek het my eerste emosionele oomblik tot dusver deur die hele swangerskap. Tot nou toe was ek nog geensins naar, siek, emosioneel of het ek enige "mood-swings" gehad nie.
Dit is eintlik vrek snaaks, ons het TV gekyk tot laat en toe die film eindelik verby is gooi ek 'n kussing na die TV en een na jou pa ('n manier om vir Pappa te se, dis nou tyd vir bed en ek het hom nie eers raak gegooi nie) die volgende oomblik gooi hy my met 'n kussing! (Dit was nie seer of hard of iets nie) maar ek het so geskrik ek het sommer begin huil! Hy het nie eers geweet nie, ek het net opgestaan en bed toe gegaan, dit was regtig snaaks!
Friday, November 14, 2008
Ou nuus...
Posted by Monzelle de Villiers at 8:23 AM
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
0 comments:
Post a Comment