Dis die dag waarop ons uitgevind het jy is oppad!
Ek het laas jaar al 'n droom gehad van die datum: "15 Julie", ek het nie geweet watter jaar dit is nie en was nie seker of dit die dag is waarop jy gebore sou word of die dag waarop ons sou uitvind ek is swanger nie, maar ek het geweet dit het iets met swangerskap te doen.
Ons het begin beplan om die gesin uit te brei en na so paar teleurstellingtjies het ek besluit om eers weer 'n bloedtoets te doen op 15 Julie 2008... Ek het die oggend vroeg al wakker geword en nadat ek al van 3uur die oggend af my "piepie" moes knyp, het ek 'n toets by die huis gedoen wat negatief uitgekom het (ugh), maar ek het nie moed opgegee nie. Ek het sommer oppad werk toe gou by die hospitaal gestop en bloed laat trek, want die datum was net vir my TE spesiaal. Ek het sommer dat die bloedtoetse na jou oupagrootjie se spreekkamer toe gestuur word, want ek wou nie eers wag dat dit na my ginekoloog toe gestuur word nie. Dan moet ek hulle eers bel en wanneer die dokter eers beskikbaar is kan ek vir hom vra wat is die uitslae... Ek wou DADELIK weet!
Dit was 'n laaaaaaaaaa-aaang wag tot ek uiteindelik later die middag met Oupa Wiets praat en hy vir my sê dat ons babatjie (jy) oppad is! Ek het dadelik vir Pappa 'n baba kombersie en 'n klein teddie beertjie gaan koop wat ek met 'n lintjie toegedraai het saam met my bloedtoets-uitslae om die nuus aan hom te breek! Hy het by die huis gekom die aand en hy was gou gou op die foon, terwyl hy besig was het ek die pakkie vir hom uitgehaal en toe hy klaar is het ek dit vir hom gegee. Hy was so bly, maar ek moet sê die wind was ook bietjie uit ons seile uit, ons het nie geweet wat ons moet doen nie. Mens wil lag, mens wil huil, mens wil iets sê, maar jy weet ook nie wat nie... Dit was snaaks. Ons het mekaar net 'n drukkie gegee en was so bly dat ons klein babatjie oppad is, ons het net na mekaar gestaar in verwondering... Ons het toe sommer by Spur gaan eet, nie een van ons wou toe kos maak nie! (Jy het lekker hoenderborsies as jou eerste kossies gehad - dis nou jou eerste kossies vandat ons weet jy is oppad)
Andersins was dit net soos 'n droom, dit het baie onwerklik gevoel tot ons jou op die eerste sonar gesien het, en al was jy toe nog net 'n spikkeltjie, was jy ons spikkeltjie!
Ons is al klaar so lief vir jou en tel die weke af tot ons jou uiteindelik kan ontmoet!
Liefde
Mamma
Monday, December 1, 2008
*Dinsdag - 15 Julie 2008*
Posted by Monzelle de Villiers at 10:36 AM
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
0 comments:
Post a Comment