Monday, March 9, 2009

15 dae!

Dis al wat oor is seuntjie pop! Net 15 daggies - maksimum (dis nou as jy nie besluit om later uit te spring nie) dan kan dit nog miskien 29 dae wees!!!! Maar ek het so gevoel jy gaan OF op tyd wees, OF vroeg... Nie baie nie, maar wel!

Ek is so te sê klaar met jou hang gordyne, ek moet vanaand net die lining vaswerk aan die voorkant en dan net die lengte meet en soom, dan het jou kamer uiteindelik gordyne!! Ek maak ook hierdie woensdag klaar met werk, so donderdag en vrydag beplan ek om al jou laaste kleertjies te was (omtrent 80% is al klaar) om die blind te maak en ook jou kant-gordyn. Dan moet ek net jou kaste regpak en uitpak met al jou klere op die regte plekke en jou 2 prentjies verf op canvas, maar dit is darem vinnig (dis nou as jy jou ma ken en vinnig in relatiewe terme opweeg)

Andersins is ons albei se hospitaal sakke gepak (die nodige is in vir ingeval iets binne die volgende dag of 2 gebeur, ek wil die naweek net alles noukeurig deurgaan en seker maak daar is nie dalk ietsie ekstra of so wat moet in nie, maar na die komende naweek sal hulle reg wees tot op die nommer en van daar af altyd saam met my in die kar wees of reg staan by die deur as ek moet spring)

Pappa het die karstoeltjies in albei karre gesit en nou is dit ook alles gereed dat jy saam met ons kan rondrits wanneer die tyd aanbreek!

Andersins sien ons net baie uit na jou koms en ons tel letterlik die dae af...

Jy groei lekker (2.8kg's met jou laaste scan 2weke terug) en andersins woel jy lekker!

Ons is amper daar, ek is seker jy kan ook nie meer wag nie!

Sien jou amper!

Liefdes
Mamma

Monday, February 23, 2009

Al die bederfies!

Ooooooooo, ons het lekker bederfies gekry die naweek vir jou! So baie mooi kleertjies, teddy's en allerhande goedjies vir jou kamer. Spesiaal gemaakte goedjies, 'n pragtige liggie, 'n duvet vir jou kot, 'n kombersie vir jou wiegie en 'n spesiale "tjallie" wat jou oupa se "tjallie" was, hy is dus 44 jaar oud en lyk nog asof hy splinternuut is! Dit was my "tjallie" ook gewees, ek het dit nooit eens geweet nie, dit is baie spesiaal!



Ek en Pappa gaan hierdie naweek al die laaste goedjies koop wat ons nog nodig het, so paar dingetjies in die kamer moet ook nog klaargemaak word en my en jou sakke moet nog gepak word, maar ek glo (en hoop) dat teen volgende naweek alles klaar sal wees. Dan kan ons maar net wag totdat jy besluit dis nou tyd om die wêreld te kom welkom heet!



Ons gaan Woensdag ook weer dokter toe, dan is ek 36 weke, so daar is nie meer baie tyd oor nie, ek dink ons sal dan hoor wat dink die dokter, dink hy jy kan dalk vroeer kom as verwag, of dalk later?

Ampertjies boetman, ampertjies, 29 dae...

Ons sien jou een van die dae!


Liefde Mamma!

Thursday, February 12, 2009

"40 days" my besige bytjie...

Kyk, vandag is jy 'n regte "rolly-polly", want dit voel vir my jy rol die kant toe, dan daai kant toe, dan terug die kant toe, dan weer daai kant toe. Jy is lekker besig vandag mannetjie, maar soos altyd, geniet ek dit elke sekonde! Elke strek, elke skop en elke kielie is vir my HEERLIK!

Ek het ook met jou gordyne begin darem (UITEINDELIK!!) Ek het gisteraand een gordyn se buitekant darem aanmekaar gesit, nou moet ek net die soompies doen en dan die lining agter sit, dan kan hy darem al hang. Dan nog ene... En dan natuurlik die blind en kantgordyn, maar dis sonder tierlantyntjies, so dit behoort baie vinniger te gaan. Ons het jou bad al gekoop, hy staan sommer klaar reg in die badkamer en dan het ons so paar klein dingetjies in die kamer oor, dan kan jy maar intrek!

Vanaand is daar weer voorgeboorte klasse by die hospitaal, die klassie vanaand gaan basies vir die pappa's wees. "Pa-word" is die klassie se naam, ek dink dit gaan vir jou Pappa lekker wees om te luister wat hulle alles vir hom gaan vertel. Ek wonder nogal wat gaan hulle alles vertel??...

Ek het gister my boeke gekry vir my eerste jaar as universiteit-student, gits, maar ons pak baie dinge aan hierdie jaar. Ek dink ek en jy gaan nog lekker sit en swot so in die komende maande, maar ons kan dit doen!

40 daggies oor Boetie seun, 40 daggies, maar ek dink jy gaan vroeer besluit om op te daag, ons sal maar sien ne!?

Lekker rond rol!

Liefde
Mamma

Friday, February 6, 2009

2.2kg's

Maar jy is 'n fris meneertjie al op hierdie stadium!

Ons was vanoggend weer by die dokter en jy weeg nou net so ampertjies 2.2kg's (2.173 om presies te wees, maar ek dink 2.2 klink beter... he he he)

Jy le mooi reg, jou voetjies is hier by my regterkantste ribbes en jou lyfie (soos ek kon uitmaak) is mooi vorentoe na ons gedraai. Hartjie klop sterk en verder lyk alles perfek. Volgens jou koppie se omtrek is ons so bietjie voor in groei, 35 weke, so jy gaan 'n ou slimmert wees!!

Tydjie raak nou min, so ek dink ek moet bietjie alles in orde begin kry!

Een van die dae.....

Mamma

Tuesday, January 27, 2009

Skamer'tjie?

Is jy 'n skamer'tjie? Almal wil voel hoe jy bietjie skop en woel, maar jy lê so stil as hulle voel....
He he he, maar as dit net ek en Pappa is, dan maak jy allerhande akrobatiese bewegings hier binne, ons kan partykeer lekker lag vir al jou strek mannewales! Dalk herken jy die stemme om jou?

(Maar kan ek jou 'n geheim vertel? Ek is seker 'n bietjie suinig, maar ek geniet dit dat ons jou nog net vir onsself het... "skuus res van die familie...")

Net 8 wekies oor my boetie-by, een van die dae kan ons jou sien woel!

Liefde
Mamma

Wednesday, January 14, 2009

Dink aan jou...

Ag my baba seuntjie, ek kan nie ophou om na jou 4D fototjies te kyk nie! Ek het seker al 1000 keer gekyk na elke een, elke gesig trekkie, elke gaap, elke vingertjie. Ek is klaar sooooooooo lief vir jou, ek dink my hart gaan bars! Vandag is een van daai dae waar dit net so oorweldigend is vir my, ek kan nou nog nie glo dat jy spesiaal vir ons oppad is nie, en met elke skoppie en stampie dan weet ek, jy kan ook nie wag om ons te ontmoet nie. Ek belowe jou ons gaan ons beste doen om vir jou net die beste te gee en seker te maak jy het oorgenoeg liefde en alles wat jy nodig het! Hier is tonne liefde wat vir jou wag, van ALMAL, oupa's, ouma's, oupa grootjies en ouma grootjies, ooms en tannies. Niemand kan meer wag om jou te ontmoet nie. Jy is vir ons klaar so spesiaal!

Ek het baie scrapbook goedjies en seuntjie dinge vir jou gekoop die week, Mamma wil graag vir jou 'n scrapbook bymekaar begin maak met al jou scan foto's en goedjies. Ek sien baie uit om te begin om dit vir jou te doen, dis nou eers wanneer ek klaar jou prentjies teen jou kamer muur geverf het en jou gordyne gemaak het. En dit is natuurlik eers nadat ek die hele huis se filing agtermekaar het (ek het vir Pappa belowe ek maak dit eers klaar! he he he)

Jy woel lekker die laaste paar dae, ek dink jou spasie is nou min, maar jy kan nog 'n lekker skop inwerk, Pappa sê jy is besig in die aande as hy my maag vashou, maar ek slaap so lekker, ek voel dit nie eers nie. Dit hou my glad nie wakker nie! Lekker woel ou Snipper! Ons gaan weer vrydag vir jou loer by die dokter, kan nie wag om weer jou gesiggie te sien en te kyk hoeveel jy gegroei het nie!

Liefde Mamma.

Wednesday, January 7, 2009

Jou 4D

Hallo bulletjie


Sjoe maar dit was wonderlik om gister jou ou gesiggie te sien!! Ons het vir ons 4D gegaan en ek is so trots op jou dat jy so mooi gelê het dat ons jou gesiggie kon sien, alhoewel jy jou voetjies vir ons weg gesteek het ;-) Dit was 'n mooi geskenkie vir mamma op haar verjaardag.

Jy is 'n pragtige klein seuntjie en jy lyk baie gesond. Ek en mamma het hard gewerk die Desember om jou kamer reg te kry, maar sweet en baie moeite....maar met meer liefde! Ek raak regtig opgewonde om jou te sien en in my arms vas te hou, ons is al klaar soooo lief vir jou en kan nie wag om jou 'n soentjie en 'n drukkie te gee nie.

Liefde

Pappa


Video:





Fotos: