Tuesday, September 29, 2009

Kyk hoe lekker swem ons!

Jy het nou begin swem (die 21ste September was jou eerste les) ek doen die Maandae klassies saam met jou en Pappa doen die Saterdae klassies saam met jou. Dis nou nie veel "tegniek" nie, want julle is maar nog almal klein, maar so deur die speel leer julle om gemaklik te wees in die water en die "basics", hoe om te float, aan die kant vas te hou en julle asem op te hou onder die water (daarby moet ons nog uitkom)... Hier is so paar foto'tjies van wat alles in die swembad gebeur.
(Hier is ook 2 video's van Saterdag se swem saam met Pappa, en het jy dit darem nou geniet!)



Sunday, September 27, 2009

'n Halwe jaartjie oud!

Ek gaan nie jok nie, ek mis die "pap-babatjie" lyfie van jou, maar ek is MAL oor die stewige ou "peuter" lyfie wat jy nou al amper het. So lekker om vas te hou en te druk. Hoe jy al so op jou eie kan sit en speel, hoe jy probeer kruip en daai boude die hoogte instoot, hoe jy gil en "praat" (klink soos ba-ba, pa-pa, ma-ma en die nuutste - da-da), hoe jy nou jou voete vasgryp, jou tone suig, hoe jy glimlag elke keer as jy nies, rondrol die hele plek vol en draai al in die rondte op jou pensie soos jy speel...

Jy is al 'n halwe jaar oud, ek kan dit nie glo nie, mense sê altyd tyd vlieg, maar jy besef nie wat dit beteken totdat jy self daar is nie, TYD VLIEG!! Dit voel soos gister (en ek onthou dit nog soos gister) toe jy gebore is, ek kan nog elke emosie en elke liewe dingetjie van daardie dag onthou, ek dink nie mens vergeet dit ooit nie, maar ek kan sê elke dag daarna word net lekkerder en lekkerder. Jy is regtig 'n pragtige, soet kind. En ons is so lief vir jou!

Lekker "halwe-jaar-verjaarsdag" my boetie seun!

PS. Ek en jy begin 6 Oktober met Moms & Babes, kan nie wag nie.
PSS. Jy was vrydag (25 September) by jou eerste verjaarsdag partytjie, Lara het 7 geword en jy was die kleinste maatjie daar!

Tuesday, September 15, 2009

Ba-Ba

Kyk net hoe oulik "praat" jy, as mens vir jou Ba-Ba sê dan konsentreer jy eers bietjie en sê dit terug... Ek weet jy weet nog nie WAT dit beteken nie, maar die geluide is daar!


Sunday, September 13, 2009

Lekker lekker vla...

Ek en jy was laas naweek by ouma en oupa, Pappa was die hele naweek op 'n mannekamp en ons het toe so bietjie in Nigel gaan kuier.

Ouma kon natuurlik dit nie weerstaan nie en het vir jou vla gegee...

Kyk net hoe geniet jy dit... en hoe gil jy vir nog!!!


Thursday, September 3, 2009

Siek

Ag my baba, nou is jy siek, net mooi 2 daggies nadat jy begin het met skool en dit ook so geniet het. Ek hou jou nou maar by die huis vandag en more en dan sal jy weer maandag skool toe...

Was by die dokter, klink my gastro is lekker in die omtrek so dis nie juis snaaks nie, maar dis steeds nie lekker dat jy nou met so onderstebo maag moet sit nie.

Darem is jy rustig en dit lyk of jy nou lekker jou tee en ander vloeistowwe inhou, so ons hou duim vas dit bly so, want dis niks lekker om jou so te sien nie en die dokter het so ewe 'n hospitaal bed bespreek vir jou net vir ingeval ons met jou moet hospitaal toe, maar ek glo en vertrou dit sal nie daarby uitkom nie...

Gou gesond word my engeltjie, Mamma is lief vir jou.

O' ja, jy weeg nou 6.8kg en is 68cm lank...

Wednesday, September 2, 2009

Video by die skool

Ek het nou nie gister met jou EERSTE dag afgeneem nie, want ek het eers vanoggend daaraan gedink, maar hier is 'n video van jou TWEEDE dag...




Hier het ek jou weer vanmiddag gaan optel...

Tuesday, September 1, 2009

Die dag het aangebreek.

Jy is tans by die skool, ek doen nou maar dingetjies hier in en om die huis. Ek en Pappa het 'n lekker wimpy ontbyt gaan eet vanoggend net om bietjie ons gedagtes af te trek...

Tannie Magriet het ook nou gebel en gesê dat jy die hele oggend sover HEERLIK gespeel het sonder enige issues of tranerigheid en dat jy nou jou bottel drink en gaan slapies.

Klink my jy is so tuis soos 'n vis in die water, Mamma het bietjie gehuil en ek is seker Pappa het ook swaar gesluk vanoggend, al die ouma's is in trane, maar ons is almal daardeur, want jy glimlag net.

Ek is lief vir jou my seuntjie-pop, want jy is so maklik en ons is so geseënd om jou as ons babatjie te hê, jy is nie vol issues en dinge nie, jy is nie huilerig nie, jy is nie "huis-vas" nie, jy glimlag vir die wêreld en gee nie om watter hande jou vashou nie, jy is 'n droom kind, jy is ons kind...

Amper 14:00 dan gaan haal ek jou weer, kan nie wag nie!

(Voor ons gery het om jou te gaan aflaai die eerste dag)