Sunday, August 1, 2010

Alweer! 16/16

Ai toggie, jy was net ontslaan toe is jy weer in die hospitaal... Die keer met longontsteking, wat blykbaar 'n algemene sekondere infeksie of terugslag van die rotavirus is...

Ons is ook nou by 'n nuwe pediater, Dr. Frieda French, baie cool tannie!!!

Sy het jou opgeneem Dinsdag 20 Julie en jy was in die hospitaal tot Woensdag 28 Julie, lank, maar sy het 'n reputasie om kinders ten minste 7 - 10 dae in die hospitaal te hou. Dan maak sy seker sy ondersoek en toets ALLES.

Die vorige pediater het jou op kroniese asma medikasie gesit op grond van jou simptome, maar dit het net niks beter geword nie, jy het vreeslik begin hoes oor die naweek en dis hoekom ons na die nuwe dokter toe is, ook omdat sy spesialiseer in asma en allergiee onder kinders. Ons het gedink jy is dalk allergies, alhoewel ons dit al getoets het, maar jy was destyds op anti-histamien en dit het die toetse belemmer... (Niemand het gese jy moet vir 'n tydjie van die medikasie af wees nie, slimmerts)

Sy het x-strale van jou bors geneem en jou dadelik laat opneem, ons het ook gereel dat jy 'n barium-sluk doen om te kyk of al die maag kleppies mooi werk en wat hulle noem 'n PH-metrie om te kyk of die refluks waarmee jy so gesukkel het toe jy klein was nog 'n probleem is.

Vir die eerste 2 aande was jy in 'n algemene saal, siende dat die privaat kamers almal vol was, so mamma of pappa kon nie by jou oorslaap nie. Maar gelukkig het daar 'n kamer vir ons oop gegaan Donderdag so van toe af het ons by die hospitaal "geboer"... Mamma en Pappa het beurte gemaak om by jou te slaap in die aande.

Jy het 8 keer gele vir x-strale, bors, barium sluk en die PH-metrie posisie. Jy het 3 keer 'n drip gekry, een in elke hand en een in jou voet, want die drip het gestol...

Jou arms was vir 24 uur vas gebind sodat jy nie die metertjie kon uit trek nie, en ons moes al jou drink/eet tye neerskryf vir die lesing.

Jy het 2 keer 'n dag fisio gekry, asook gesuig en ultraklank op jou sinusse...

Elke 4 ure gestoom...

Dit was nie 'n lekker rondte nie, maar dit was nodig, want ons het uiteindelik tot die gevolg gekom dat jou refluks wel die oorsaak van alles is. Kronies oor-infeksies, kroniese sinusitis en die aanhoudende hoes al is jy nie siek nie. Met die refluks (silent) stoot dit op, maar jy bring nie noodwendig op nie en dan soos jy le loop al die gemors terug en beland in jou longe en dit hou jou "siek"... Jy is nou op anti-suur medikasie vir 3 maande en gaviscon met elke bottel en elke ete om te kyk of dit help. Jou matras is ook meer gelig as wat hy was (jy slaap nog altyd op 'n wedge, maar ons het hom nou ekstra gelig) Nou glo en vertrou ons net die medikasie werk, anders moet hulle 'n nis insit om te help dat jou boonste kleppie nie onnodig "oop" gaan nie... Maar ons weet dit sal nie nodig wees nie.

Die donker kringe onder jou oe wat almal gedink het is as gevolg van allergiee is toe al die tyd as gevolg van 'n yster tekort, snaaks, want Mamma het vir jou "Vidaylin with Iron" gegee, maar ek dink dit was net nie genoeg nie... Jy lyk sommer al klaar beter nou dat jy op 'n yster aanvulling is 2 keer 'n dag...

16/16:  Jy het "16 maande" gevier in die hospitaal, en jy het nou 16 tande (#16 - gesny 21 Julie, onderste oogtand - regs) Glimlaggies soos altyd!!!

Ag, Mamma is net bly so jy is weer by die huis en ons is almal weer by die huis, dis darem so lekker om in jou eie bed te slapies en ek gee nie eers om dat jy die hele huis omkrap nie, jy mag maar, want om jou stemmetjie en voetstappies weer hier te hoor is net die beste geluid en beste gevoel in die wereld. 

Deur dit alles bly jy 'n soete kind, met die paar keer wat ons jou alleen moes los in die hospitaal het die suster amper nie eers geweet daar is 'n pasient nie, want jy hou jouself tjoep stil besig, niks huil nie, niks skree nie. Net 'n plesier vir almal!

16 maande glimlaggies in die hospitaal...
Baie lief vir jou my choppie!!!
*Mamma sal in die week jou foto'tjies opsit van jou hospitaal ondervinding en alles wat jy deurgemaak het...*

0 comments: