Tuesday, April 21, 2009

Jy is hier!

Hier is jy 1 daggie oud!Dis nou al 29 nadat jy gebore is en ek skryf nou eers!

Sover was dit nog die beste 29 dae van my lewe, Pappa sin ook... Jy is 'n engel, die dierbaarste, soetste klein dingetjie.

Jy is gebore, 23 Maart 2009, 4:07am, dit was 'n maandag oggend, jy het 3.215kg geweeg en was 47cm lank met geboorte, jou kop omtrek was 36cm.

Die kraam was "maklik" dalk dink mense ek maak 'n grap, maar dit was regtig soveel makliker, vinniger en basies pynloos. Ons het die sondag aand van die 22ste Maart hospitaal toe gegaan, ek was 39weke en 5dae swanger, so ampertjies volterm. Ek en Pappa was baie opgewonde, want ons het geweet teen die volgende oggend sal jy by ons wees, dit was net 'n kwessie van hoe laat. Ons was 22:00 by die hospitaal, want die dokter wou 'n induksie doen, dit het so teen 23:00 gebeur. Pappa was by my tot so 23:30. want die suster het vir my 'n slaappil ook gegee en toe vir hom gese dit help nie hy sit by my nie, want ek gaan inelkgeval slaap, hy kan maar huistoe gaan en dan sal hulle/ek hom net bel as die tyd reg is. Ek het al my make-up afgewas, my hare sommer net op my kop vasgemaak en in my pajamas geklim en reggemaak om dan nou maar bietjie te slaap, want dit gaan mos 'n rukkie vat het ek gehoor. Ek het net so begin wegraak toe ek 'n drukking op my stuitjie voel. Die suster het gese ek moet haar roep as ek enige pyn of iets het en ek het haar geroep en gese ek kry die gevoel en dit raak beter as ek bietjie rondloop, sy het toe vir my 2 panado's gegee en 'n warm 'bean-bag' wat ek net so op my stuitjie kan hou om die "pyn" bietjie te verlig. Sy het 'n ondersoek gedoen en het gese die dinge is maar net stadig aan die gebeur, ek kan maar rustig probeer verder slaap as die panado bietjie begin help. (Blykbaar was ek 'n vingerpuntjie ontlsuit op daardie stadium)

Ek het maar probeer slaap, maar dit wou nie werk nie, en omdat almal en al die boeke se mens kry kontraksies het ek nie besef dit is my "kontraksies" nie, omdat dit net die gevoel op my stuitjie was, ek het niks gevoel op my maag nie. So ek het gedink daar is nog baie tyd, totdat Pappa die volgende oggend weer kom en dan by my bly tot alles verby is. Ek het net weer so begin wegraak toe die gevoel weer terug kom, so dan loop ek maar so bietjie om die bed dan gaan dit weg en dan klim ek weer in die bed, dan kom dit terug. Dan voel dit ek wil pieps, maar niks wil gebeur nie. So het dit die hele aand aangegaan tot omtrent 3:00am, toe word ek naar en siek en toe roep ek maar die suster so 3:30am se kant. Sy het gekyk en ek was 10cm ontsluit. Ons moes dadelik na die kraamsaal gaan, ek het Pappa vinnig gebel en hulle het die dokter gebel, want jy was oppad en niks kon jou nou meer keer nie.

Terwyl ek in die kraamsaal gele het met my groen hospitaal rokkie aan (ek kan nou nog nie onthou hoe het ek in daan hospitaal rokkie gekom of hoe het ek in die kraamsaal gekom nie) het die 2 susters vir my entonox gas gegee om in te asem, want ek voel net heeltyd ek wil druk, maar ek moet wag, want die dokter is nog nie daar nie, Pappa is nog nie daar nie en my water het nog nie gebreek nie. Ek het maar gele en suig aan daai gas soveel ek kon, tot die volgende oomblik toe my water breek! Dit was baie weird, net soos a balonnetjie wat ontplof. Ek was eintlik bly dit het self gebeur en die dokter moes dit nie vir my doen nie, want ek wou voel hoe voel dit... Nou kon ons dit nie meer keer nie en of die dokter nou betyds kom of nie, die proses moes aangaan, so hulle het die gas weggevat, my reg laat le en gese as ek voel ek moet druk, dan moet ek, want jy is nou oppad.

Gelukkig het Pappa binne minute daar aangekom, en die dokter net so agter hom. (Pappa se parkeer kaartjie het gewys hy was 3:45am by die hospitaal in) Nou was dit regtig net die laaste bietjie wat voorle tot jy daar is, die dokter en susters het my mooi gehelp en gese wanneer ek wat moes doen en jy was 4:07am gebore, baie vinnig, Pappa het jou naelstring geknip, die suster het jou geweeg, jou naam aangesit en jou toegedraai en vir Pappa gegee, en daarna kon ek jou ook vashou. Ek het ook eers vinnig 'n koppie swart rooibos tee gedrink met suiker, want my bene het vreeslik begin bewe na die hele proses.

Ons het na die kamer terug gegaan, ek het gou gestort en vars aangetrek en toe is ons deur na die kraamsaal waar ons die volgende 3 dae spandeer het, dit was lekker.

Dit was die mees ongelooflikste oomblik van my lewe! Jy was so klein, maar so perfek, alles is daar wat daar moet wees en jy het my hart van die eerste sekonde af gesteel.

Ek is so bly jy is nou met ons, ek mis die swanger gevoel nogsteeds, maar om jou hier by ons te he is soveel beter! Dit is regtig die mees amazingste ding op aarde en ons is klaar so lief vir jou!

0 comments: